15 Oktober 2020

23 Mei 2018

Welkom

Welkom by die PW Buys-weblog.

Die digter, skrywer en teoloog, PW Buys, sou in Oktober 2023 sy 100ste verjaardag gevier het. Hierdie blog poog om sy geskrewe nalatenskap lewendig te hou.

U is welkom om kommentaar te lewer of versoeke te rig: glbuys@gmail.com.

Gerrit, Mietsie, Susan en Louise (kinders).

04 September 2017

Galery

bo: As skoolseun | Paspoortfoto | Saam met sy gesin, suster en moeder  | Saam met sy vrou Lulu.
onder:  As student met sy familie | Eerste Chev | Troudag 12 Maart 1949 | Met Lulu, Mietsie en Gerrit. 

22 November 2009

Herfsblaar

1

'n Somer lank het hy
teen stormgeweld van wind en reën
vas aan die tak gebly.

Aprilmaand, in die najaar al,
het net 'n roering in die lug
hom saggies aarde toe laat val.

2

Dat juis dié blaar
van alle blare in die woud
van alle woude wêreldwyd
moes val

op hierdie plek
van alle plekke in die heelal
biljoene teraparseks wyd
na elke kant
tot in die swart oneindigheid

op hierdie oomblik van die tyd
wat weerskante reik
tot aan die grense
van die ewigheid ...

05 Januarie 2009

Tuiskoms

As ek 'n ganse dag
na sug op sug en klag op klag
van sterwendes moes luister in die siekeboeg,
dan gaan ek huis toe saans,
doodmoeg.
Voordat ek bed toe gaan
om in die slaap se soet vergetelheid te sink,
skuif ek oplaas die swaar gordyne dig
en keer weldadig by my leeslamp in
en soek vertroosting in die sagte lig
by groot musiek en poësie.

• Voordrag deur die digter 

Groenspreeu

Die digter is 'n leuenaar wat altyd die waarheid praat
Jean Cocteau

Jy kan die groenspreeu nie vertrou,
hy lieg die aarde pimpelblou.

Hy fluit die hemel lowergroen,
paljas 'n pruim tot perlemoen.

Hy tierelier die suring soet,
die katjiepiering swart soos roet.

Hy vonkel, konkel, toor die son
tot 'n ranonkelrooi ballon.

Die groenspreeu is 'n kunstenaar -
soms lieg hy selfs die waarheid waar.

Herfs

Ek het die najaar lief
al skryf hy elke maal
April en Mei subtiel en suggestief
in duister taal
veel ouer nog
as Sanskrit, spykerskrif of hiëroglief
dieselfde ou verhaal ...
Die eerste week in Junie liasseer ek hom finaal
- 'n klaar vergeelde brief -
diep in die hart se klein argief.

04 Januarie 2009

Rooivink

Die rooivink gooi
'n rooi vonk in die riet,
'n vuurkool in die geil kanet.
Hy vlieg op uit die plaat palmiet.
Sy vlerkies sprinkel splinters lig.
Hy fladder vlamrooi in die lug
en val 'n gloeistreep na sy nes
van droë gras.
Hy speel met vuur dié voël.
Straks steek hy nog die wêreld aan die brand.

17 Desember 2008

Kleiosse

Die winterwind het op my hand
'n ghoen van 'n skurwet gebrand,
want ek het by die waterkant

van vroeg tot laat plaas-plaas gespeel
en uit die vleiturf swart en geel
kleiosse vir die mark geteel.

Saans het my ma die brandsiekseer
voor ek gaan slaap het, altyd weer
met ruitersalf en ghries gesmeer

en my beloof: 'n winterwond
word nooit weer heeltemal gesond
as jy bly vroetel in die grond.

Nou's daar al soveel jaar verby.
'n Merk het op my hand gebly ...
en iets wat soms nog skryn in my.

14 Desember 2008

Karoo

Berusting in die leed van eeue oordek
die grys gelaat van hierdie doodstil land;
'n silwer liglyn beef oor elke rant
sover die blinkbruin einder rondom strek:

óm vaal verdriet van lappe gannastruik,
plek-plek die bakens asblou besembos
en troppies skaap wat luidloos oor die bros
karookalk skuifel-skuifel; die son se luik

laat strale lig uit transparante kringe.
Hier vind 'n mens opnuut die sekerheid:
daar is 'n hemel vol verborge dinge
verby die grense van ons ruimte en tyd,
'n land van ver, mistieke fluisteringe
wat ons bereik vanuit die ewigheid.

Hoe kleef mens aan die plek ...

Hoe kleef mens aan die plek waar jy as kind
gewoon het! Die dorpie met sy stil rivier,
sy steil kerktorings teen die lug, en langs
die vaal stofstrate: sipres en populier.

Die rooibont koeliewinkels en die mark,
die stadsaal, koshuis en die skoolgebou,
en van die dorpsgesigte is daar veel
wat jy soos prente uit 'n boek onthou.

Die spierwit gewel van jul huis, die put,
die handpomp en die fyntuin van jou pa -
dit voel soos gister toe jy laas met groot
blikemmers groentebeddings nat moes dra.

En someraande het jy urelank
in die donker denneskadu's op die kweek
gelê en kyk hoe blink die sekelmaan
in fyn patroontjies deur die naalde breek.

My plaas se grens

Die tolbos het Augustusmaand
my plaas se heinings toegewaai,
en in die grensdraad het die wind
die bondels waaigras vasgedraai.

Daarna het uit my akkerland
- soos in die groot Depressiejaar -
die stuifsand teen die doringdraad
in bloedrooi duine opgegaar.

En magteloos moes ek aanskou
hoedat die afgemete lyn
wat ek gespan het, in die graf
van wind en sand en stof verdwyn.

Nou het ek in die woesteny
geen baken of beduidenis,
geen sekerheid, want elke grens
is deur die waaisand uitgewis.

13 Desember 2008

Lyster

Somermiddag
loom van stilte.
Tussen wortels van die stinkhout
en dooie blare van die struike
skrop die dofbruin lyster in die grond,
staan stil,
die koppie skuins
asof hy luister
waar die erdwurm wegkruip in die turf.
Hy fladder op.
Uit takkies van die tamarisk
breek hy die stilte.
Sy kroppie swel.
Hy kweel kristal
en fluit fluweel
en speel viool
en rol die rondo's uit die klein
klaviertjie in sy keel.
Dan bly hy stil.
Daar lê laventel op die lug.

07 Desember 2008

Plaatopname

Skuins teen die ashoop
tussen kronkels en spirale
ou doringdraad en pale
en plate swartgeroeste sink,
'n leë, ingeduikte trommel
en nog 'n hele spul
wanmusikale rommel
van 'n goedkoop poporkes,
blom vol en heuningsoet
die bronsgeel stuifmeelstem
van Frida Boccara.



Naamloos

Twee duiwe het van die nes af opgevlie -
die een het teruggekom, die ander nie.

Twee bome het jare saamgegroei -
die lente staan net een in bloei.

Oor Digters

"Ek weet nie hoekom party digters nie gehoor word nie, of net in die verbygaan gehoor word. Eveleen Castelyn was een van hulle; PW Buys, wat pragtige goed geskryf het, was ‘n ander een; Ina Rousseau in ‘n mate ‘n ander een; en Olga Kirsch. Ek dink dit is omdat lesers graag ikone kies, eklekties is, dan skakel hulle ander uit, hulle verarm hulleself, en die hele literatuur." - TT Cloete in gesprek met Joan Hambidge, op Litnet, 2008-05-06.

01 Desember 2008

Blyplek in Nederland

PW Buys het in 1961 drie maande lank in Nederland gewoon, waar hy aan sy doktorale studies gewerk het. Die prentjiemooi plek kan in 3D gesien word deur op die volgende skakel te kliek:

Jan Luijkenstraat 50, Amsterdam

Die blyplek was die deur direk links van die rooi bossie blomme, aan die linkerkant van die foto.

30 November 2008

Biografiese Notas

Ná sy skooldae op Brakpan en Bronkhorstspruit behaal P.W. Buys die grade B.A., B.D., Th.M. en Th.D. aan die PU vir CHO. Van 1948 tot 1973 was hy predikant op Theunissen, Kroonstad en Potchefstroom; van 1973 to 1988 professor in Etiek en Apologetiek aan sy alma mater. In dié jare was hy 'n tyd lank rektor van die Teologiese Skool en ook hoof van die Departement Dogmatologiese Vakke. Ná sy emeritering in 1988 doen hy pastorale versorging van bejaardes in drie aftree-oorde in Potchefstroom - 'n taak wat hy tot sy afsterwe verrig het.

Deur die jare het daar van hom gedigte in Stiebeuel en Tydskrif vir Letterkunde verskyn. In 1977 debuteer hy met 'n digbundel Pleroma, wat in 1987 gevolg word deur Wit Korbeel. Die verskyning van Van sigbare en onsigbare dinge het saamgeval met sy 75ste verjaardag op 15 Oktober 1998. Hy is op 27 November 1999 oorlede.

12 Junie 2008

Litanies




PW Buys het in 1961 in Nederland gestudeer. Hy het in Amsterdam naby die Rijksmuseum gewoon en die besoek aan een van ons stamlande as 'n baie waardevolle ervaring beleef.

Hierdie stukkie musiek sluit nou aan by sy werk as predikant. Die sopraan is Nynke de Jong, 'n dame wat normaalweg as dromspeler (poukespeler) optree in die program "Nederland Zingt". Sy het 'n baie mooi ryk musikale stem wat goed pas by die aard van die komposisie. Martin Zonnenberg begelei haar op die orrel.

22 Oktober 2003

Goeie wense van Totius aan PW Buys
na die aanvaarding van die beroep
na sy eerste gemeente

21 Oktober 2003


Poskaart van Totius aan PW Buys
14 Mei 1953

20 Oktober 2003

Digter P.W. Buys 'die ander Totius'

LEANA LATEGAN


POTCHEFSTROOM se ánder Totius, word 'n mens maklik verlei om te dink as jy die digter P.W. Buys se lewe in oënskou neem.

'n Lewe wat begin het in Germiston, en ná verskeie haltes uiteindelik verplaas is na Potchefstroom, waar Pieter Willem Buys op 27 November 1999 oorlede is. Sowat twee jaar gelede het sy kinders, ná sy vrou, Lulu, se dood, sy literêre nalatenskap aan Naln bemaak: 'n Kosbare skat dokumente en artefakte wat by aspekte van sy skryfwerk aansluit.

Op besoek aan die Totiushuis-museum in Potchefstroom vertoon die kurator 'n kort film om 'n mens ten opsigte van Totius te oriënteer. Met 'n eerste kyk sou 'n mens moeiteloos die "hoofkarakter" as Totius sélf eien. Inderwaarheid is prof. Buys destyds gebruik om die rol van Totius te vertolk: In figuur en persoonlikheid miskien Totius se ewebeeld, maar by nadere kennismaking een van die mees indrukwekkende mense wat 'n mens in die wêreld van die Afrikaanse letterkunde kon ontmoet. Van nature beskeie en nederig, maar 'n man wat allerweë met groot liefde, respek en agting bejeën is.

As predikant het hy verskeie gemeentes in die Vrystaatse Goudveld bedien, en sy Th. M-graad in net nege maande afgehandel. In 1953, die jaar waarin Totius oorlede is, begin Buys se bediening in Potchefstroom, 'n dienstyd wat 35 jaar sou duur. Hy verwerf in 1970 sy doktorsgraad en behartig as hoogleraar aan die Teologiese Skool die vakke etiek, apologetiek, kategetiek en evangelistiek. Ná sy emeritering in 1988 begin hy met pastorale versorging van bejaardes in drie Potchefstroomse aftreeoorde, 'n liefdestaak waarmee hy tot met sy dood besig was.

"As jy gedigte soek" (lui die titel van 'n openingsvers uit sy bundel Wit korbeel ), sal jy dit oral kry, sê die digter: dalk sit joú gedig "soos die gemmerkat / skuins voor oom Willie Steyn se huis", of skuil dit "in 'n wateremmer / in Huis en Tuin se rakke"; dis dalk "sommer oop en bloot / soos 'n studentesoen / voor Volkskas op die stoep"! Maar vir Buys was "Tomstraat . . . steeds "die beste plek . . . Dáár's een om elke hoek": die lang eikelaning met bome wat oor jou kop tóémaak was vir dié skrywer 'n misterieuse en geliefkoosde wandelplek, en 'n stukkie straat wat hy met sy trapfiets seker alte dikwels beleef het. (Die groot gesinsmotor het trouens as vervoermiddel by hom min aftrek gekry, want die fiets was sy ryding, waarnatoe die reis ook mog gaan!)

Buys se verse is altyd religieus gerig, maar dit sou 'n growwe verskraling wees om hom as religieuse digter te tipeer. Daarvoor reik sy kreatiewe vermoëns te wyd: By sy studeerkamertafel onder die leeslamp met die staander van "heuninggeel olien", die hout wat deur swaarkry "marmerhard en mooi" geword het, het die digter 'n uitsig gehad oor die kronkelende stukkie Mooirivier wat teen die huis in Van Rooystraat 18 verbyvloei. Hier sien hy die "nege wilgerboompies wat ek self geplant het"; "my groen plataan" ( Inventa ris ), en al die voëls wat by die waterbak vertoef om water te drink of te bad. Maar hy bemerk ook die korrel sand, neerslag en laaste rusplek van die rots wat deur vulkane "gloeiend uit / die ingewande van die aarde / opgespuit" en met verloop van millenniums fyngemaal is: " 'n oomblik / en / 'n ewigheid'.

Sy verse is klein duette van klank en kleur, altyd ingebed in die wonder van 'n Groter Hand wat alles vashou, skik en kantel. Of dit die vuurkool-streep van die rooivink is, of die "trom wat in die diepte roffel", die somberheid van die aftree-oord en hospitaal waar hy siekes en sterwendes besoek (terwyl hy sélf "bewe / van angs / vir die lewe") -- alles skryf hy tot gravures vir dié wat die lees-reis wil onderneem.

Buys se drie digbundels (die somtotaal van sy gepubliseerde oeuvre) het beskeie begin by Pleroma, uitgegee in 1977, is opgevolg met Wit korbeel (Perskor, 1987) en afgesluit met Van sigbare en onsigbare dinge (Tafelberg, 1998).

Die neerslag van 'n hele lewe is literêr hierin vervat: Predikant, dosent, filosoof, berader, gesinsmens, natuurliefhebber, toeris. Nie sonder rede het Afrikaanse literêre kritici Buys se bundels deurgaans met positiewe kritiek begroet nie: Die skrywer se integriteit as mens en as kreatiewe vakman maak van sy verse "skuilplekkë van bos en veld en skemerlig".

Op 15 Oktober vanjaar was dit Buys se 80ste verjaardagherdenking, en Groenspreeu (uit sy laaste bundel) sê dit als:

Jy kan die groenspreeu nie vertrou, hy lieg die aarde pimpelblou. Hy fluit die hemel lowergroen, paljas 'n pruim tot perlemoen. Hy tierelier die suring soet, die katjiepiering swart soos roet. Hy vonkel, konkel, toor die son tot 'n ranonkelrooi ballon. Die groenspreeu is 'n kunstenaar -soms lieg hy selfs die waarheid waar.

- Leana Lategan is hoof- opvoedkundige beampte by Naln.

03 Augustus 2001

PW Buys (1923-1999)


Gebore en getoë

Pieter Willem Buys is op 15 Oktober 1923 in Germiston in die destydse Transvaal (vandag Gauteng) gebore. Sy ouers was Karoomense. Sy moeder was ’n nooi Du Plessis van Philippolis en sy vader ’n Steynsburger. Hulle het na ’n plaas tussen Brakpan en Heidelberg verhuis toe Pieter nog ’n jong seun was.

Pieter het in Brakpan en Bronkhorstspruit skoolgegaan en in Bronkhorstspruit gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Pieter het sy naskoolse studie aan die Potchefstroomse Universiteitskollege in 1941 begin – die moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog. Hy het die grade BA, BD, ThM en ThD (in 1970) aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Noordwes-Universiteit) behaal. Hy was met Lulu getroud; sy is in 2001 oorlede. Die egpaar het vyf kinders gehad: twee seuns, Gerrit en Johan, en drie dogters, Mietsie, Susan en Louise.

Vanaf 1948 tot 1950 is Pieter predikant in die Gereformeerde Kerk op Theunissen in die Vrystaat. Saam met die gemeente het hy die groot ontwikkeling op die Vrystaatse goudvelde meegemaak.

In 1950 is hy na Kroonstad (ook in die Vrystaat) en was vanaf 1953 tot 1966 leraar van die Gereformeerde Gemeente Potchefstroom. Tydens sy bediening daar is ’n nuwe kerkgebou in gebruik geneem. Hy het in 1961 drie maande lank in Nederland gewoon, waar hy aan sy doktorale studie gewerk het.

In 1966 is hy na die Noordbrug Gemeente in Potchefstroom, waar hy predikant was tot 1973.

Vanaf 1973 tot 1988 was hy professor in die etiek en apologetiek aan die Teologiese Skool in Potchefstroom en aan die PU vir CHO, waarna hy rektor van die Teologiese Skool in Potchefstroom geword het, tot 1985. Vanaf 1981 tot sy aftrede in 1988 was hy hoof van die Departement Dogmatologiese Vakke.

In 1979 het Buys, in opdrag van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerk, die teks van Totius se Psalmberymings hersien. Hy het die teks van die Totiusberymings so ver as moontlik behou en slegs die ou Nederlandse vorme met nuwer Afrikaanse woorde vervang. Hierdie hersiening wat hy pas voor sy dood voltooi het, moet nie met die nuwe Psalmomdigtings verwar word nie.

Ná sy emeritering in 1988 het hy met pastorale versorging van bejaardes in drie Potchefstroomse aftreeoorde begin, ’n liefdestaak wat hy verrig het tot sy afsterwe in 1999.

’n Bundel wetenskaplike opstelle word hom aangebied met sy emeritaat getiteld Waar die paaie saamwoon. Bekende teoloë was studente van Buys, onder andere Fika van Rensburg, Herrie van Rooy, Paul de Bruyn, Koos Vorster en PP Kruger.

Pieter het deur die jare talle artikels in wetenskaplike en kerklike tydskrifte en boeke gepubliseer. Hy was ook vir baie jare redakteur van die Christelike kinderblad Slingervel. Benewens wetenskaplike artikels deur hom het ook van sy verse van tyd tot tyd in Tydskrif vir Letterkunde en in Stiebeuel verskyn.

Pieter het in 1977 met die digbundel Pleroma gedebuteer. Die titelwoord is ’n godsdienstige term wat beteken dat God alomteenwoordig is in die skepping.

Die gedigte in die bundel is in sewe afdelings (sewe is die Bybelse volledigheidsgetal) tuisgebring en dit wil tesaam duidelik maak hóé God alomteenwoordig is in Sy skepping. En dan tref dit ons dat ook Buys se poësie ons uiteindelik uitbring by die organiese gedagte wat ons teëkom by ander digters, soos Van Wyk Louw, DJ Opperman, Herman Gorter en Totius, vir wie die organiese samehang van dinge in God hulle oorsprong het, soos ook vir Buys. Ons het hier nie met invloed te make nie, maar met diepe verwantskap, volgens die resensent in Junie 1978 se Tydskrif vir Geesteswetenskappe.

“Buys se organiese, pleromatiese kyk op mens en wêreld, mens en skepping, is wesentlik digterlik en ’n vormkrag. Vanweë die pleromatiese samehang van dinge kan uiterstes met mekaar saamgaan, soos die heerlike en liriese ‘Amelita Galli-Curci’ en die pragtige singende ‘Meidjie’ wat spontaan saamhoort met die vroue in pyn in die afdeling ‘Vroue’. Wat boei in Pleroma is wat ons kan noem die veranderlike perspektief, maar die konstante resultaat. (...)

“Die lewensvolheid en egtheid van die bundel lê vervolgens daarin dat ook die onsekerhede van die mens, sy ‘gemis’, sy pyn en verdwaaldheid in ’n soms ontgrensde wêreld (‘My plaas se grens’) in hierdie gedigte onder woorde gebring is. En ook in die geval van die pyn byvoorbeeld is gewone daaglikse dinge, die ‘voorhande’ dinge, weer eens die vertrekpunt van ’n ervaring wat ver uitreik, soos in die merkwaardige ‘Kleiosse’, waar die seun se skurwe winterwond, wat ontstaan het omdat hy kleiosse gemaak het, uitgroei tot die pyn van die mens. (...)

“Oor die gaafheid van die vers in Pleroma hoef mens nie te twyfel nie. Dié is daar. Gaan luister maar na die gang van die ritme in die slot van ‘Tornado’ of die delikate klank en ritme in ‘Meidjie’. Met groot gemak is die verse geskryf in Pleroma wat so ’n vol werklikheid dra van groot en klein, naby en oneindig verre dinge, en dit is juis in hierdie laaste, groter strukture dat Buys uitmunt.”

Pieter se tweede bundel, Wit korbeel, is in 1987, presies tien jaar na Pleroma, gepubliseer. Jacques van der Elst sê hy was verras deur die verskeidenheid temas en motiewe in die bundel, aangesien ’n mens sou verwag dat dit uitsluitlik religieuse gedigte sou bevat, komende van ’n teoloog. Die bundel het wel ’n religieuse ondertoon, maar die poësie steek nie daarin vas nie.

Volgens Van der Elst reik baie van die gedigte uit na die bestaan van die mens as fyn beskouer van die natuur en deelnemer aan die alledaagse dog uiteenlopende ruimtes: Tomstraat in Potchefstroom, die Sinoiagrot in Zimbabwe, die stadsbeeld van Chicago, die Komiteekamer, Pafuri by die groot Luvuvhu, die studeerkamer met die staander van sy  leeslamp.

“Religieuse poësie het soms ’n inherente gestremdheid – enkele gedigte is nie heeltemal vry nie – omdat daarin dikwels te veel en te persoonlik bely en getuig word, meestal met die doel om te evangeliseer tot aan aanvaarding van die heilsgebeure en die geestelike verlossing van die mens. Hierdie oorreding tot aanvaarding geskied soms ten koste van estetiese waarde en oorspronklikheid van segging.”

Volgens Van der Elst verken die bundel ’n verskeidenheid temas: (a) die wêreld as “vindplek” van die poësie; (b) die vraag na die waarom van die bestaan van die gebrekkige en invalide mens; (c) die besinning oor die sterflikheid van die mens en terminale siektes met ’n ironiese verwysing na die onuitroeibaarheid (onsterflikheid?) van die kankersel; (d) die predikant en die resepsie van sy preek met die besonder vindingryke beeld van die stom parkeermeter.

Van der Elst beskou Wit korbeel as ’n besonder leesbare bundel vir sowel die akademiese leser as die gewone liefhebber van poësie. “Tussen die vele debute van ‘angry young men’ is dit ’n oase van rypheid en besinning, die produk van ’n digter met ’n wye lewenservaring wat nie grootdoenerig en eksperimenteel verwoord word nie. Daarom moet ’n mens nie in hierdie bundel eksperiment, baanbrekende rewolusionêre styl en verstegniek soek nie. Dit beteken nie die bundel is kleurloos nie. Inteendeel, dit bevat baie verrassende woordspelings en woordvondste, verryk met boeiende paradokse en klankwerkings.”

Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek is ’n korbeel die “uitstekende stuk in ’n muur waarop ’n balk rus, kraagsteen”. En die vers wat volgens Joan Hambidge die titel verklaar, is die slotvers in afdeling sewe, “Mag ek?” (bladsy 69):
Mag ek die houtkosyne wees
die drumpel waar u voet op trap
– In elke spoor ’n druppel bloed?

Mag ek die dak wees oor u kop,
die kraagsteen wat die balke stut,
die binnekamer van u hut?
Vir Hambidge was die bundel ’n aangename verrassing waarvan die meeste verse lesers sal boei. Daar is egter verse wat soms woordtempering kort, maar die mooiste verse in hierdie verdienstelike bundel vergoed vir die insinkings.

Vir Daniel Hugo was Wit korbeel een van die onderskatte bundels van 1987. Die strammerige formele verse van Pleroma het in hierdie tweede bundel plek gemaak vir beweeglike en klankryke verse. Hy het veel plesier gehad aan die talle sjarmante gedigte van hierdie ondogmatiese professor. Hy meen dat Wit korbeel vir die leser wat verslae staan voor die hermetiese en/of akademiese aard van die destydse Afrikaanse poësie, ’n aangename verrassing sal wees. Hy haal die gedig “Rooivink” as prikkel aan:
Die rooivink gooi
’n rooi vonk in die riet,
’n vuurkool in die geil kanet.
Hy vlieg op uit die plaat palmiet.
Sy vlerkies sprinkel splinters lig.
Hy fladder vlamrooi in die lug
en val ’n gloeistreep na sy nes
van droë gras.
Hy speel met vuur
Dié voël.
Straks steek hy nog die wêreld aan die brand.
Elf jaar later, in 1998, is Pieter se derde (en laaste) bundel, Van sigbare en onsigbare dinge, gepubliseer, ter viering van sy 75ste verjaardag.

Joan Hambidge meen dat ’n letterkunde ook sy kleiner stemme nodig het, digters wat dikwels nie op die voorgrond staan nie, maar wat ’n onthoubare klein gedig skryf of gewoon net deel vorm van die hele tapisserie van ’n digkuns. PW Buys is so ’n digter. Hy is ’n hedendaagse Totius, ’n digter wie se gedigte nog altyd vir Hambidge beïndruk het vanweë hul eenvoud dog vormvastheid. Dit is gedigte wat handel oor die mens se aardse bestaan en metafisiese bestekopname.

Buys begryp, volgens Hambidge, die groot kuns om steeds oor abstrakte sake soos die dood, siekte, die metafisika en dies meer konkrete gedigte te maak. Dit is ook ’n bundel wat getuig van baie jare se leef en nadink. Daar is ’n skerp oog op die menslike lyding, op siekte (die slopende ervaring van kanker), oudword en die dood. Ook kan die onbetwiste invloed van TT Cloete op ’n tegniese vlak gesien word: die rymbeheer in ’n gedig soos “Die dowwe lamppit” en ook die enumerasie van die gewone en die sublieme. Buys se gedigte spreek ’n mens aan omdat daar niks vernaams of pronkend intellektueel aan hulle is nie. Tog getuig die gedigte van tegniese vaardigheid en van ’n besliste nadink oor kwessies soos vorm-tug. ’n Mens sien hier die hand van ’n wyse, ou man wat ook met sorg rekenskap gee van die funksie van die poësie.

Ook die nederigheid van die skryf van poësie word geplaas teenoor die almagtigheid van die Goddelike, soos in “Suikerbekkies”:
Groen suikerbekkies in die son
vol soet geluk oor hom
onnodig om hom neer te skryf,
hy is by voorbaat ’n gedig:
vuurrooi, bitter aalwynblom!
Die digter wil kennelik gemeet word aan die Rilke-uitspraak dat gedigte maar min werd is as dit vroeg in die lewe geskryf word. (Dit is natuurlik nie altyd waar nie, skryf Hambidge. ’n Mens dink hier byvoorbeeld aan Rimbaud en Verlaine, en ons eie Antjie Krog en Theunis Engelbrecht.) Die wins van ouer poësie is natuurlik dat dit ontdaan is van jonger sentimente.

Soms is die gedigte steurend en aangrypend, soos in die behandeling van kanker; ander kere is dit klein waarnemings, maar tog gevoelig, soos “Naamloos” toon:

Twee duiwe het van die nes af opgevlie –
die een het teruggekom, die ander nie.
Twee bome het jare saamgegroei –
dié lente staan net een in bloei.

Die digter skryf beeldend, en deur sy goedgekose beelde dra hy sy boodskap oor sonder dat dit prekerig raak.

Vir Jan Swanepoel is die bundeltitel, Van sigbare en onsigbare dinge, veelseggend, veral as dit saamgelees word met die twee sitate vooraf. Enersyds word daar aan die hand van die sitaat uit 2 Korinthiërs 4:18 gemik op ’n teenstelling: “die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig”. Andersyds is daar die aanhaling uit die geskrifte van die skilder Paul Klee, wat stel dat ’n skildery nie die sigbare hoef te weerspieël nie, maar dat dit die onsigbare sigbaar moet maak. Deur die kuns, so kan ’n mens aflei, word die onsienlike sienlik. Die bundel wil, blykens sy titel, rekening hou met sowel die sigbare as die onsigbare dinge. In die poësie word die tydelike sigbaar, en ten spyte van die tydelikheid in ’n bepaalde sin duursaam.

Vir Swanepoel is hierdie bundel besonder visueel en ouditief ryk. Reeds uit die openingsgedig “Groenspreeu” blyk die toespitsing op die poësie se paradoksale daarvan, duidelik. Hierdie gedig is ’n voorbeeld van die beste verse in die bundel. Daar is ’n sekere speelsheid te bemerk, ’n beweeglikheid in die versbou, en klankmatig is dit heg gekonstrueer.

Die blywendste indruk wat Van sigbare en onsigbare dinge op Swanepoel gemaak het, was in die verwoording van lyding en van herinneringe. Dat dit na aan die hart van die bundel lê, is duidelik uit die digter se vertaling van ’n uitspraak van die Duitse digter Rainer Maria Rilke wat juis die aandag wil vestig op al die dinge wat nodig is om ’n goeie vers te maak, en op die rypheid wat dit vereis. Hiervolgens is verse meer as gevoel en as herinnerings; dit is ervarings en herinnerings wat intiem een geword het met die digter en dan woord word en uit die digter uitgaan.

Van sigbare en onsigbare dinge is ’n bundel waarin uiteenlopende dinge saamgedig word. Daar word gedig oor die kleine en die magtige, oor die tydelike en die ewige, oor sigbare en onsigbare dinge. Die stemming verspring van lig tot donker, van spel tot dodelike erns, en dan weer terug. Dit is ’n lieflike bundel wat herlees en herlees kan word.

AP Grové het in Beeld geskryf dat ‘n mens deur die tematiese verkenning van die bundel iets van die skrywer te wete kan kom: sy jeug, sy intellektuele belangstellings, sy werk as predikant en professor in die teologie, en later sy ervaring as pastorale begeleier van oues, siekes en sterwendes.

As ’n mens egter tot die essensie van die bundel wil deurdring, moet daar gelet word op die bindende verwantskap tussen gedigte van uiteenlopende aard, ’n verwantskap wat deur die genoemde “rubrieke” sny en so die essensiële eenheid van die bundel bevestig. Die besondere wyse waarop Buys die hede dwing om telkens op die wyse van die poësie ’n bepaalde stuk verlede na die oppervlak te dwing, maak hierdie bundel ’n boeiende leeservaring en ’n waardevolle bydrae.

Pieter Willem Buys is op 27 November 1999 na ’n kort siekbed oorlede. Ná sy vrou Lulu se dood het sy kinders sy literêre nalatenskap aan die Nasionale Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein bemaak.

Huldeblyke
  • Leana Lategan, Museumgeesteswetenskaplike by Naln: “As jy gedigte soek” (lui die titel van ’n openingsvers uit sy bundel Wit korbeel), sal jy dit oral kry, sê die digter: dalk sit jóú gedig “soos die gemmerkat/ skuins voor oom Willie Steyn se huis”, of skuil dit “in ’n wateremmer/ in Huis en Tuin se rakke”; dis dalk “sommer oop en bloot/ soos ’n studentesoen/ voor Volkskas op die stoep”! Maar vir Buys was “Tomstraat ... steeds die beste plek ... Dáár’s een om elke hoek”: die lang eikelaning met bome wat oor jou kop tóémaak was vir dié skrywer ’n misterieuse en geliefkoosde wandelplek, en ’n stukkie straat wat hy met sy trapfiets seker alte dikwels beleef het. (Die groot gesinsmotor het trouens as vervoermiddel by hom min aftrek gekry, want die fiets was sy ryding, waarnatoe die reis ook mog gaan!)

    Buys se verse is altyd religieus gerig, maar dit sou ’n growwe verskraling wees om hom as ’n religieuse digter te tipeer. Daarvoor reik sy kreatiewe vermoëns te wyd: By sy studeerkamer onder die leeslamp met die staander van “heuninggeel olien”, die hout wat deur swaarkry “marmerhard en mooi” geword het, het die digter ’n uitsig gehad oor die kronkelende stukkie Mooirivier wat teen die huis in Van Rooystraat 18 verbyvloei. Hier sien hy die “nege wilgerboompies wat ek self geplant het”; “my groen plataan” (Inventaris), en al die voëls wat by die waterbak vertoef om water te drink of te bad. Maar hy bemerk ook die korrel sand, neerslag en laaste rusplek van die rots wat deur vulkane “gloeiend uit/ die ingewande van die aarde/ opgespuit” en met verloop van millenniums fyngemaal is: “’n oomblik/ en/ ’n ewigheid”.

    Sy verse is klein duette van klank en kleur, altyd ingebed in die wonder van ’n Groter Hand wat alles vashou, skik en kantel. Of dit die vuurkool-streep van die rooivink is, of die “trom wat in die diepte roffel”, die somberheid van die aftree-oord en hospitaal waar hy siekes en sterwendes besoek (terwyl hy sélf “bewe/ van angs/ vir die lewe”) – alles skryf hy tot gravures vir dié wat die lees-reis wil onderneem.

    Buys se drie digbundels (die somtotaal van sy gepubliseerde oeuvre) het beskeie begin by Pleroma, uitgegee in 1977, is opgevolg met Wit korbeel (Perskor, 1987) en afgesluit met Van sigbare en onsigbare dinge (Tafelberg, 1998). Die neerslag van ’n hele lewe is literêr hierin vervat: Predikant, dosent, filosoof, berader, gesinsmens, natuurliefhebber, toeris. Nie sonder rede het Afrikaanse literêre kritici Buys se bundels deurgaans met positiewe kritiek begroet nie: Die skrywer se integriteit as mens en as kreatiewe vakman maak van sy verse “skuilplekkë van bos en veld en skemerlig”.

    Op 15 Oktober 2003 was dit Buys se 80ste verjaardagherdenking, en “Groenspreeu” (uit sy laaste bundel) sê dit als:
  • Jy kan die groenspreeu nie vertrou,
    hy lieg die aarde pimpelblou.
    Hy fluit die hemel lowergroen,
    paljas 'n pruim tot perlemoen.
    Hy tierelier die suring soet,
    die katjiepiering swart soos roet.
    Hy vonkel, konkel,
    toor die son tot 'n ranonkelrooi ballon.
    Die groenspreeu is 'n kunstenaar –
    soms lieg hy selfs die waarheid waar.
TT Cloete: As ’n mens aan PW Buys terugdink, vra jy jouself af: hoeveel lewens kan een mens lewe? Buys was meer as een mens. Van roeping was hy teoloog, eers as predikant en later as akademikus. Hy was professor in etiek en apologetiek aan die teologiese skool van die Potchefstroomse Universiteit. Diep in sy hart was hy egter ook ’n digter, en hy was ook baie lief vir die musiek en die skilderkuns. In daardie bekende bloemlesing wat DJ Opperman baie jare gelede (1946) saamgestel het uit gedigte wat in Standpunte verskyn het, is destyds al gedigte van Buys opgeneem wat hy as student geskryf het. Opperman het sy talent dadelik herken. Tog het Buys jare later eers gedebuteer. Hy het drie digbundels gepubliseer. In 1977 het hy gedebuteer met Pleroma, net mooi tien jaar later volg Die wit korbeel en nog tien jaar daarna sy derde en laaste bundel, Van sigbare en onsigbare dinge. Van hom geld wat die Nederlandse digter JC Bloem van homself gesê het: wat hy aan omvang ingeboet het deur sy beskeidenheid, het hy deur suiwerheid vergoed. Buys was ’n werklik beskeie mens en nie opgewasse teen die onaangenaamhede wat die blootstelling van die literatuur altyd maar meebring nie. Daarom het dit veel oortuigingswerk gekos om hom te oorreed om in 1977 te debuteer, beskroom en half weggesteek. Die uitgewers van sy eerste twee bundels bestaan selfs nie meer vandag nie. Hy was ’n sagte mens, sag soos die swartkomyn waaroor hy in sy laaste bundel skryf: “swartkomyn word met ’n sagte stok geslaan as dit geoes word”. In sy laaste bundel, wat baie goed ontvang is, skryf hy oor ’n oorlede jeugvriend wat die digkuns diep in hom gehad het. Daardie gedig is vandag op Buys self van toepassing: vlamhelder leef hy voort, hy “wat die wonder van die skoonheid/ suiwer soos ’n kind/ beleef het lewenslank”. Hy het, toe hy al professor in die teologie was, vir die avontuur vanaf die eerste jaar tot by die honneursklasse in algemene literatuurwetenskap geloop. Hy het soos ’n avontuurlustige mens met ’n gretige gesig daar gesit. Wat hy vir ons nagelaat het, is skoon, suiwer liriek en gedigte van ’n beminlike menslikheid.
  • Prof PJ de Bruyn in Die Kerkblad van 9 Februarie 2000: PW Buys was Christen met sy hele wese. Hy was van sy studentedae af ’n harde, toegewyde werker. Hy het so hard gewerk dat Totius hom by geleentheid gewaarsku het dat sy kragte nie sal hou as hy so voortgaan nie. Wat veral opvallend was, was sy nederigheid en beskeidenheid.

    As predikant was hy ’n besonder begaafde prediker wat die Woord van God in sy diep en indringende betekenis kon verklaar en oopmaak en dit dan so toepas dat dit ’n mens werklik aangespreek het. Toe daar by geleentheid aan Pieter Buys gevra is hoe hy ’n preek maak, was sy beskeie antwoord: “Op my knieë.”

    Pieter Buys was ook vir geruime tyd lid van en voorsitter van die Deputate vir Kerklike Publikasies en in dié verband het hy waardevolle diens gelewer. Talle artikels oor kerklike sake het in Die Kerkblad en in Die Gereformeerde Vroueblad verskyn. Sy grootste bydrae in dié verband was egter sy redakteurskap van 34 jaar van Slingervel, die Christelike kinderblad. Hy het die gawe gehad om op ’n besondere wyse met die jeug te gesels en daarom het hy Slingervel ook uitgebou. Die Sinode van 1997 het dan ook heel gepas ’n oorkonde aan hom oorhandig vir “sy waardevolle en onbaatsugtige werk aan Slingervel”.

    Behalwe vir die feit dat hy ’n bekwame en toegewyde leermeester was, was sy groot waarde as akademikus veral geleë in die leiding wat hy aan nagraadse studente gegee het. PW Buys was as persoon, soos Totius, klein van postuur, maar ’n man met ’n groot gees en wonderlike gawes en talente wat hy toegewyd en met oorgawe in die diens van die Here gebruik het.
  • TT Cloete oor PW Buys se poësie: In stilte en afsondering het Buys sy skryfwerk gedoen, en dit goed gedoen, sonder aanmatiging, sonder pretensies, sonder aandagsoekery, sonder enige eise wat hy aan die leser gestel het. Buys se werk is ryk aan taal. Hy benut woorde uit ons woordeskat wat grootliks onbenut in woordeboeke lê.
  • Dr Neels Smit: Ons dank God vir PW Buys. Nederige mens, ’n kinderlike gelowige. Geroepe teoloog wat eintlik niks graagter as predikant wou wees nie, en nooit kon ophou om predikant te wees nie. Elf jaar na sy emeritaat het hy op 76, in die laaste tyd vermoeid en belas met sy toenemende siekte wat hy sover moontlik vir homself gehou het, voortgewerk en die volle bediening van Huis Eikelaan behartig. In ’n bepaalde sin was hy ’n gevangene van die bediening, hy móés eenvoudig voortwerk, sy sin vir roeping het hom gedryf. Hy het na hierdie werk van hom in Huis Eikelaan met ’n skerp sin vir ironie gekyk. Hy het dit “romantiek van die pastoraat” genoem. Hy was prediker by uitnemendheid: ’n man wat uit die terloopse teks nuwe wêrelde kon optower, verrassende perspektiewe kon laat inslaan; maar ook iemand wat kon lag, met die onhebbelikheid dat hy so aan die lag kon gaan vir die komiese dat hy moeilik tot bedaring kon kom. Humormens, wat met fyn selfspot gedurende sy laaste nag in die intensiewe eenheid, met talle pypies en monitors aan hom verbind, tussen asemstote deur nog kon sê: “Ek lyk nou nes Sasol!”

    Ook gesinsman, vriend en raadgewer vir baie, veelsydige denker, skerpsinnige waarnemer. Natuurliefhebber wat God se groot liturgie in die natuur kon bemerk. ’n Man in wie die digter uit elke hoek van sy hart geloer het. En die man wat wonder, die man wat ly, veral vanweë ander se lyding, ander se droefheid. Die man in wie die kind nooit gesterf het nie, want hy was kind van God. Sy diepste vreugde het hy in die nabyheid van sy Vader gevind, berustend, bereidwillig vir God:
    Nou is die vrede diep en vol,
    Die leed van jare weggesink
    Soos waterkuile in valleie
    Wanneer die aand daar rooi oor blink.
                   
Aanhalings uit enkele gedigte van PW Buys
  •  Tiptol
...
Kletsnat hol
hy na die plas se kant,
hy stryk
sy veertjies met sy snawel glad.
Heilig en spieëlsuiwer blink
sy omgekeerde beeldjie in die watervlak.

...
Finaal bekeer
begin hy luidkeels bid en roep
in tongetaal.

’n Halfuur later steel hy weer
een van my adamsvye.

  • Oor sy werk by Huis Eikelaan
’n Ligte werk wat ’n emeritus
teen die verveling van die oudag
sal beskerm?

Nou tien jaar al
sprei ek my pastorale vlerk
beskermend oor hul uit
en vou hul in die liefde toe
van Christus en sy kerk.

Maar, Here God, U weet,
ek hou my hart met albei hande vas
wanneer ek smôrens binnegaan
in hierdie groot
wagkamer van die dood.

  • En só beskryf hy God se groot liturgie in die groot en klein dinge van die natuur:

    Waar alles rondom so ’n helder prent
    van sy nabyheid is, is sakrament

    en werklikheid tot een saamverbind.
    En as die dag verby is en die wind

    met skemeraand die laaste lofsang speel,
    dan hef die son sy hande teen die geel

    aandhemel op en spreek nog ten besluit
    die seën oor die verlate landskap uit.

http://www.litnet.co.za/Article/pw-buys-1923-1999#bo

03 Desember 1999

Buys het wonder van skoonheid beleef

T.T. Cloete


P.W. Buys is verlede Vrydagnag oorlede. As 'n mens aan hom terugdink, vra jy jouself af: hoeveel lewens kan een mens lewe? Buys was meer as een mens. Van roeping was hy teoloog, eers as predikant en later as akademikus. Hy was professor in etiek en apologetiek aan die teologiese skool van die Potchefstroomse Universiteit. Diep in sy hart was hy egter ook 'n digter, en hy was ook baie lief vir die musiek en die skilderkuns.

In daardie bekende bloemlesing wat D.J. Opperman baie jare gelede (1946) saamgestel het uit gedigte wat in Standpunte verskyn het, is destyds al gedigte van Buys opgeneem wat hy as student geskryf het. Opperman het sy talent dadelik herken. Tog het Buys jare later eers gedebuteer. Hy het drie digbundels gepubliseer. In 1977 het hy gedebuteer met Pleroma, net mooi tien jaar later volg Die wit korbeel en nog tien jaar daarna sy derde en laaste bundel, Van sigbare en onsigbare dinge.

Van hom geld wat die Nederlandse digter J.C. Bloem van homself gesê het: wat hy aan omvang ingeboet het deur sy beskeidenheid, het hy deur suiwerheid vergoed. Buys was 'n werklik beskeie mens en nie opgewasse teen die onaangenaamhede wat die blootstelling van die literatuur altyd maar meebring nie. Daarom het dit veel oortuigingswerk gekos om hom te oorreed om in 1977 te debuteer, beskroom en half weggesteek. Die uitgewers van sy eerste twee bundels bestaan selfs nie meer vandag nie.

Hy was 'n sagte mens, sag soos die swartkomyn waaroor hy in sy laaste bundel skryf: swartkomyn word met 'n sagte stok geslaan as dit geoes word. In sy laaste bundel, wat baie goed ontvang is, skryf hy oor 'n oorlede jeugvriend wat die digkuns diep in hom gehad het. Daardie gedig is vandag op Buys self van toepassing: vlamhelder leef hy voort, hy ``wat die wonder van die skoonheid/ suiwer soos 'n kind/ beleef het lewenslank''. Hy het, toe hy al professor in die teologie was, vir die avontuur vanaf die eerste jaar tot by die honneurs klasse in algemene literatuurwetenskap geloop. Hy het soos 'n avontuurlustige mens met 'n gretige gesig daar gesit. Wat hy vir ons nagelaat het, is skoon, suiwer liriek en gedigte van 'n beminlike menslikheid. 


http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1999/12/03/8/2.html

14 Februarie 1999

Die sigbare hou altyd iets van die onsigbare in

Deur LUCAS MALAN
VAN SIGBARE EN ONSIGBARE DINGE

P.W. Buys

Tafelberg
R59,95 

DIT is nogal opvallend hoe klein die aantal Afrikaanse digters is by wie se werk 'n mens duidelik die stempel "religieuse digter'' sal plaas. 

Onder hulle tel die welbekende Totius seker eerste, gevolg deur mense soos W.E.G. Louw, Olga Kirsch, Ina Rousseau, Sheila Cussons, I.L. de Villiers, Lina Spies en T.T. Cloete. By die jonger geslag kan ook enkeles soos Rosa Smit en Johan Myburg gereken word. 

Elkeen van dié het 'n eie stem, en hoewel hulle nie deurgaans daarmee besig bly nie, is daar tog in hul poësie dikwels die spore van 'n religieuse instelling op die daaglikse ervaring, of is daar blyke van besinning daaroor. 

'n Minder bekende naam onder hierdie beperkte groep is dié van P.W. Buys, wat in 1973 met Pieroma gedebuteer het, en toe eers ná veertien jaar 'n tweede bundel (Wit Korbeel) gepubliseer het. Nou, tien jaar later, verskyn hierdie bundel. 
 
Volgens T.T. Cloete in Die Afrikaanse Literatuur sedert Sestig (Nasou, 1980) verwys die titel van Buys se eerste bundel na die teenwoordigheid van God in die ganse skepping. 

Dit is 'n gedagte wat ook deurlopend in Buys se tweede en derde bundel waargeneem kan word. Trouens, daar is meer as een ooreenkoms tussen sy drie digbundels wat die leser opval. 

So is daar die talle verwysings na Bybeltekste by sy gedigte, wat die spreker se persoonlike ervarings ook vir die algemene leser bevatlik maak. Daarby spreek sy verse van 'n tipies menslike verwondering oor die geestelike inhoud van natuurdinge (veral soos dit by voëls waargeneem word), asook 'n volgehoue meelewing met die lyding wat mense onderling deur siekte en ouderdom moet ervaar en verdra. 

Die titel van hierdie bundel berus op die passasie uit 2 Korintiërs 4-18 en is selfverklarend: Dit wat jy sien (die sigbare) is eintlik die teken (of metafoor) vir dit wat jy nié kan sien nie (die onsigbare). So is die boom in die gedig "Silwerbas'' met al die sigbare kleur en glans van die landskap in wese ook 'n ``helder, borriegeel gedig''. Net so word die valk of arend in die gedig "Roofvoël'' binne enkele reëls veel meer as die sigbare ding dit word iets van 'n feniks of 'n apokaliptiese Lucifer. 

En in die gedig "Uur van waarheid'' is die bedrywige fabrieksgebied wat rondom 'n begraafplaas ontstaan het, iets van 'n kosmiese wagkamer waarin dié wat weerskante daarvan werk of slaap, hunkerend wag op hul onderskeie, dubbelsinnige ``tjailatyd'' of ``opstaantyd''.

Op 'n tegniese vlak is dit ook opvallend hoe P.W. Buys meermale met herhalings of 'n inventaris van woorde wat in hul betekenis met mekaar skakel, daarin slaag om 'n gedig met verdrag op te bou tot by 'n sterk, ontploffende slot. 

Die treffendste voorbeeld hiervan is die gedig "Jy wat 'n ander leer''. Hier word iets soos twintig kwale wat veral by bejaardes voorkom, een na die ander met ritmiese variasie en 'n stygende effek van beklemming opgenoem. Dan eindig die vers met 'n krampagtige vorm van gebed: 

"Vader, U weet hoe ek bewe/ van angs/ vir die lewe.'' 

Hier (asook in ander verse soos "Voortekens'', "Onkologie'' en "Die dowwe lamppit'') demonstreer P.W. Buys dat hy 'n besondere gevoel vir die ordening van 'n taal se klank- en betekeniswaarde het.

Daarby het hy 'n fyn aanvoeling vir die menslike kondisie wat in die teken van twyfel en ondergang staan sonder om deurgaans morbied te wees. Die verse "Boereraat'' en "Tant Grietje'' is voorbeelde van 'n ligter stemming wat die bundel balanseer. 

Dit is meer as genoeg rede waarom hierdie bundel aanbeveel kan word veral by dié leser wat al self ervaar het hoe die sigbare dinge altyd iets van die onsigbare inhou. 

Dr. Malan is 'n digter.

Ons besoekers kom van...

ip-location